Moord in Haus Amelie für Ehelosigkeit Mütter

Net voor sonop ry die ’65 Austin Healy, Bucht binne. Die mis sleepvoet nog deur die swak verligte strate.
Maria kyk deur die motorruit na waar die Rhynse kerk koninklik op die rotse staan en oor die Atlantiese oseaan uitkyk.
Af met die slingerpaadjie ry hulle verby die impossante Bahner Haus wat agter die mis skuil.
Maria se maag ruk in haar keel op toe die Austin voor die ysterhekke van Haus Amelie für Ehelosigkeit Mütter tot stilstand kom. Die huis vir ongehude moeders wat deel uitmaak van die Rhynse sendingkerk klooster. Groot en wit staan die jaartal 1887 op die gewel bokant die voordeur.
Die dubbelverdieping kliphuis troon bokant die sesvoet hoë klipmuur wat dit en die sendingstasie aan drie kante omring.
“Ons is hier,” kondig haar pa emosieloos aan terwyl hy die motor se handrem vastrek.
“Ek sien so.” Maria sukkel om die woorde verby die knop in haar keel te kry. “Pa …”
“Kom ons moet ingaan. Dis netnou lig dan sien die mense ons hier.” hy klim uit die motor, haal haar tasse uit die bagasie bak.
In stilswye stap hulle na die voordeur. Franz se stem koggel haar met elke voetval op die klipsteen paadjie.
“My mooie Maria met die sagte bruin oë en begeerlike lyf. Ek het jou lief.” het hy keer op keer belowe.
Dieselfde Franz wat haar kil aangekyk het toe sy hom vertel het hul liefde dra vrug in haar.
Nog voordat haar pa die kopperknobbel aan die growwe houtdeur kan oplig om te klop, gly dit geruisloos oop.
Die strak gesig wat onder die sluier uitloer se oë vergroot effens toe sy die besoekers sien.Woordeloos staar sy vir ‘n oomblik na hulle. Met ‘n benerige hand wys sy hulle moet haar volg.
Die houtvloer kla terwyl hulle in die koue gang afstap tot voor ‘n donker Mahoniehout deur waarop Mütter Prinz, in groot vergulde letters geskryf staan.
“U kan die tasse eers hier voor die deur los. Ek sal iemand stuur om haar bagasie te kom haal en dit na haar kamer te neem.” sy klop saggies aan die kantoordeur.
“Binne!” die Moeder Owerste se stem kom klokhelder van agter die toedeur.
Joviaal groet sy toe die groepie mense haar kantoor betree.
“Meneer Adami en die mooie Maria, welkom by Haus Amelie für Ehelosigkeit Mütter. Ek is Suster Angelica. Sit gerus,” sy beduie na twee regop houtstoele waarop hulle kan sit.
“U het die nodige dokumentasie vir my saamgebring? Die doktersverslae?”
Suster Angelica kyk na die groot bruinkoevert wat boepens trek met al die nodige dokumente wat nodig is vir Maria se toelating tot die huis vir ongehude moeders. Sy hou haar hand uit na Maria se pa om dit te oorhandig.
“Alles blyk in orde te wees.” sy maak die hopie dokumente weer bymekaar.
Suster Angelica stoot haar stoel agter die houtlessenaar uit en staan op. Loop om die lessenaar tot voor Maria en haar pa wat ook opgestaan het.
“Ek gaan u nou kans gee om van u dogter afskeid te neem. Ek belowe ons sal u dogter mooi op pas tyd en wyl sy hier by ons aan huis is.” belowe die mollige kort vroutjie.
“Totsiens meneer Adami, ‘n veilige terugreis Koës wens ek u toe.” groet sy voor sy die vertrek verlaat.
“Pa …” probeer Maria weer met haar pa praat.
“Mooi bly, my kind. Ons sal jou kom haal sodra alles verby is,” hy beduie na haar maag, “ en jy klaar is met skool.”
Verslae bly Maria staan toe haar pa die deur agter hom toe trek. Eers dan, met ‘n snik, glip die woorde verby die knop in haar keel.
“Ek is jammer Pa. Jammer oor die skande wat ek oor die Adami-familie gebring het.”
Na haar pa se vertrek, kom Suster Angelica weer haar kantoor binne en verduidelik die huisreëls aan haar en wat van Maria verwag sal word, terwyl sy ‘n inwoner van Haus Amelie is.
Suster Angelica lui die koperklokkie wat op die hoek van haar lessenaar staan. Die deur glip oop en dieselfde vrou wat die voordeur vir Maria-hulle oopgemaak het kom die vertrek binne.
“Maria, dit is Frau Kalhert. Frau Kalhert dit is Maria Adami. Sy gaan vir ‘n rukkie by ons bly. U kan haar gaan wys waar haar kamer is. Vra sommer vir een van die ander dogters, Karlinka miskien, om Maria rond te wys.”
Frau Kalhert is nie juis oorvriendelik toe hulle die trappe op stap na Maria se kamer nie.
“Hier is jou kamer. Julle deel ‘n kamer. Jy en Karlinka.” mopper Frau Kalhert.
Maria kyk na die twee enkelbeddens wat in teenoorgestelde hoeke van die kamer staan. Op die een bed is ‘n dun klapperhaar matras. Op die voetenent is daar ‘n hopie opgevoude beddegoed en ‘n verekussing sonder sloop. Haar tasse staan voor een van die hangkaste.
“As jy klaar jou tasse uitgepak het en jou tuisgemaak het sal Karlinka jou touwys maak oor wat gaan vir wat.” daarmee draai sy om en laat Maria alleen in die kamer.
Maria tel een van haar tasse op die bed. Dit is vir haar duidelik toe sy die tas oop knip dat iemand in haar tas gekrap het. Sy kyk ook in die ander tas. Daar is ook in die ander tas tussen haar goed gekrap. Die rooi sakkie met haar goue kettinkie en die kruisvorm hangertjie wat Franz vir haar gegee het, is weg.
Sy maak haar bed op nadat sy uitgepak het. Die leë tasse pak sy bo-op die hangkas. Gaan sit dan op haar bed en kyk by die venster uit. Sy kan die Atlantiese oseaan sien. Deur die oop venster die branders teen die rotse onder hoor slaan.
“Kom, ek moet jou gaan wys waar alles is.” Maria skrik toe iemand skielik by haar praat.
“Ek is Karlinka de Waal,” stel die vriendelike blondekop haarself bekend. Sy vryf liefkosend oor haar maag.
“Nie meer lank vir my nie, ek is nou agtmaande. ” gee sy te kenne. “En jy?”
“Vier maande.” Maria trek haar rok styf om die effense boepie wat haar maag maak te wys.
“Ek is sestien en jy? Hoe oud is jy? Gaan jy laat aanneem?”
“Vyftien.Ja, op jou laaste vraag.” Daar is ‘n gelatenheid in Maria se stem.
Sy stap agter Karlinka aan.
Karlinka bring Maria op hoogte van alles wat al in Haus Amelie für Ehelosigkeit Mütter gebeur het.
“Suster Angelica is die dierbaarheid vanself. ‘n Regte moeder vir ons wat skande bring,” sy knipoog vir Maria.
“Frau Kalhert is ‘n regte ou knol. Onvergenoegd met die lewe is nie die woord nie. Lyk altyd of sy hardlywig is.” babbel Karlinka.
By groot dubbeldeure op die onderste vloer gaan sy staan.
“Hierdie is die eetsaal.” Sy stoot die dubbeldeure oop.
“Daar voor by die tafels langs die klavier is waar die personeel sit. Ek en jy sit hier,” sy beduie na ‘n tafel agter in die saal.
“Na ete hou ons godsdiens. Janneke begelei ons met die klavier as ons Hyms sing.”
“Wie is Janneke?” Nie dat Maria nuuskierig is nie, want dit kan haar min skeel wie is wie, sy vra net uit hoflikheid. Sy wil nie hier wees nie. Hierdie plek is te neerdrukkend.
“Janneke is die een met die lang swart hare wat so langs haar neus afkyk na ‘n mens. Sy het na die geboorte van haar kind nie weer terug gegaan na haar ouerhuis nie. Haar ouers het haar nooit kom haal nie. Sy vertel altyd vir almal haar pa is een of ander Baron, maar ons almal weet sy jok.”
Karlinka is al weer op pad gang af na ‘n ander deel van die gebou.
By ‘n wit deur waarop staan – Klinik.
“Hier is die kliniek. Een keer ‘n maand kom dokter Kasner ons sien. As ons intussen olik voel of seerkry, dan is suster Gabel hier om ons te help. Sy is ook die vroedvrou. ‘n Blok van ‘n vrou. Mens soek nie moeilikheid met haar nie. O dierbaarheid en kan sy seer inspuit!” Karlinka lag toe sy Maria se oë sien rek.
“Jy is aaklig,” Maria stamp speels aan Karlinka toe sy agterkom Karlinka skiet spek.
Maria is dankbaar toe Karlinka haar buite toe lei, na die tuin toe..
Die uitsig oor die see is asemrowend mooi. Dit laat Maria na haar asem snak.
“Ek sit elke oomblik wat ek vry het hier. Elfuur begin die son te warm word, dan is dit beter binne in die gebou. Na ete saans kom ek ook hier sit en wag dat die tyd omgaan.” Karlinka gaan op ‘n bankie sit.
Maria loop tot op die rand van die rotse. Dit voel of die afgrond haar wil aftrek na die skurwe rotse wat tussen die klotsende branders uitsteek. Die rotse is glad onder haar skoensole.
Haar hand voel in haar rok se sak, na die sepia-foto van haar geliefde Franz.
“Kom ons moet ingaan.” Karlinka se stem ruk Maria uit haar gedagtegang.
Maria het deur die nag na die die wind en see geluister. Slaap het haar ontwyk, haar trane oor Franz se verwerping het ‘n nat kol op haar kussing gelaat.
Saggies het sy opgestaan, kaalvoet die trappe afgesluip en by die agterdeur uitgeglip tuin toe. Sy was onbewus van die donker, skraal figuur wat haar volg.
‘n Hele ruk sit sy in die wind op een van die tuinbankies en tob. Toe staan sy op en beweeg na die rand van die afgrond soos sy die vorige dag gedoen het. Die wind ruk en pluk aan haar skraal lyf. Dou het klaar op die rotse gevorm.
“Wie sê dis sy kind? Hoe weet hy jy het nie by ander mans geslaap nie?” tart die wind haar,. Dit was Franz se woorde.
Die see se stem in haar ore doof die voetstappe agter haar uit. Gillend tuimel sy met swaaiende arms en skoppende bene na benede. Met ‘n sieklike plofgeluid ontmoet haar liggaam die rotse. Branders spoel oor haar verminkte liggaam. Meng met haar bloed voor dit terugtrek see toe in afwagting op die volgende brander.
Twee dae later is daar weer ‘n klop aan Haus Amelie für Ehelosigkeit Mütter se voordeur.
Frau Kalhert maak die deur oop vir die man wat eens haar hart besit het. Die vader van haar kind wat sy gedwing was om te gee vir aanneming twintig jaar gelede. En die rede hoekom sy na soveel jaar nog in hierdie haatlike huis bly.
“Meneer Adami, volg my. Mütter Prinz en sersant Brink wag op u.” ‘n glimlag sprei oor haar gesig toe sy omdraai en voor hom uitstap na die Moeder Owerste se kantoor.

©Orange Blue

 

©ALLE REGTE VOORBEHOU Geen gedeelte van hierdie boek mag op enige manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die kopiehouer (skrywer) en uitgewer nie

Advertisements

Diana se glaskasteel

Groot Bob het na sy vroeë aftrede vir haar Diana, sy Queen soos hy haar genoem het, hierdie kasarm van ‘n huis gebou. Meer glas as steen is gebruik om nie die asemrowende uitsig hier van die koppies af, oor die dorp te bederf nie. ‘n Ware glaskasteel in die gesogte rykmansbuurt van Koppieskroon.
Misnoegd blaas sy deur haar neus as sy aan die nagebootsde kliphuisie oorkant die straat dink. Dit steek af tussen al die majestueuse huise wat dit omring.
Diana kyk van haar borduurwerk af op toe sy die bekende dreuning van klein Bobby se bakkie hoor. Vieruur. Hierdie nagte se wakker sit en bekommer oor haar seuns is besig om haar onder te kry. Sy weet al by voorbaat dat dit water oor ‘n eend se rug is om Bobby te berispe. Hy aard na sy pa.
Haar hart versag aan gedagte van Bob Verster. Hulle was skoolliefdes van graad agt af aan Hoërskool Steekdorings. Die onderwysers het haar gewaarsku teen Bobby Verster maar sy het haar doof gehou. Nie eens haar ma of die predikant kon haar oortuig van Bob se streke nie. Sy was gek oor die wilde streep in hom. Daar was nie ‘n bang haar op sy kop nie, wat hy wou hê het hy seker gemaak hy kry. En hy wou haar hê.
Teen alle verwagting in het Bob goed vir haar en hulle drie kinders gesorg. Hy was nie die skorrie morrie wat almal hom uitgemaak het nie. Na matriek het hy by ‘n bekende veilingshuis op Steekdorings gaan werk.
Sy werk was om elke keer na die omliggende boere toe te gaan as hulle wou vee keur om op die volgende veiling te verkoop. Bob se noue kontak met die veeboere was uiters lonend. Daar was gereeld geskenke van die boere. Klaar geslag, hulle moes net self die karkas bewerk.
Winters het hy en die seuns gaan jag. Nie ‘n sent hoef hulle betaal vir die wild wat Bob te beurt geval het nie, alles was geskenke van dankbare boere.
Haar kollegas by die prokureursfirma Allemans, Verhoef en Vennote op Steekdorings het haar die meevallertjies beny wanneer sy hulle vanuit die hoogte inlig dat haar man weer ietsie huis toe gebring het. Sy kon kwalik die vermakerigheid in haar stem verbloem. Al die jare was die begeerte dat diegene wat op Bob neersien, hulle woorde sal sluk.
Hul oudste seun Bobby was ‘n kranige rugbyspeler soos sy pa, met net so ‘n wilde streep in hom. Diana en Bob was meer na die skoolhoof se kantoor ontbied oor hul telg se onhebbelikheid tydens skoolure, as wat hulle al twee gesamentlik tydens hulle eie skoolloopbane in die kantoor was.
Diana sit haar borduurwerk in die naaldwerkmandjie langs haar neer, voor sy steunend opstaan om die ketel aan te skakel vir koffie. Bobby sal nou koud en dors wees, gewoonlik honger ook. Sy haal die beskuitblik uit die spens en plaas dit op die kombuistafel.
Terwyl sy wag dat die ketel kook, gooi sy so lank ‘n opgehoopte teelepel kitskoffie in elke beker. Haar koffie drink sy swart en sonder suiker, Bobbie drink sewe teelepels suiker in sy koffie, min melk.
‘n Sleutel knars in die agterdeur se slot.
“Hoekom is ma nog die tyd van die nag wakker?” Hy vra dit elke naweek. En soos elke keer wag hy nie vir ‘n antwoord nie. Skuif net agter die beskuitblik in en begin knars aan die droë beskuit.
“Môre Ouboet,” sy sit die beker koffie voor hom neer, “Ma kan nie slaap as julle so laatnag uitbly nie.”
“Ek is nie meer ‘n kind nie. Petrie ook nie,” mompel hy met ‘n mond vol beskuit.
“Iets gekry?”
“Ja. Ou van Wyngaardt het vir ons ‘n skaap geskenk.” Daar loop koffie oor sy ken toe hy weer aan ‘n stuk beskuit hap.
“Dis gaaf van hom. Wanneer gaan jy slag?”
“Klaar geslag. Sommer op van Wyngaardt se plaas.” Nog ‘n beskuit word versuip in die laaste bietjie koffie in sy beker.
“Maar my kind! Pa sou nooit as te nimmer op die boer se plaas geslag het nie. Dit was te gevaarlik. Hy het laat Eenoog vir hom slag.”
Vlamme van onsteltenis vlek haar keel rooi en kruip oor haar gesig.
Die gevaarligte flikker al ‘n geruime tyd, net soos daai tyd met Bob. Dit help nie meer sy probeer dit ignoreer nie.
Diana kan nog die beklemming van daai aand om haar keel voel toe ‘n speurder van die veediesftal eenheid van die SAPS aan hulle deur kom klop het. Hy wou privaat met Bob praat het hy gesê. Sy het uit die sitkamer geloop en in die gang naby die deur gaan staan en geluister. Dankbaar dat die seuns nog by hul rugby oefening was en hul dogter Marie by ‘n vriendin gaan kuier het.
Die speurder se woorde klink nog vars in haar ore.
“Bob ons almal weet jy is die skaapdief, dat jy onwettig in wildboere se kampe jag. Jagseisoen of te nie. Eendag is eendag gaan ek jou vang en toesluit. Ek kom jou net waarsku ter wille van jou vrou en kinders. Stop waarmee jy besig is.”
Groot Bob se honende lag het deur hul huis gedreun. Diana het geweet dit was vals bravade wat hy vir die SAPS se Inspekteur voorgehou het.
Haar ore het maande later nog gegloei oor die skande wat haar geliefde oor hulle gebring het. Sy was seker die hele dorp weet van Bob. Nooit weer het sy teenoor ander gespog oor die “welkome geskenkies” van dankbare boere nie.
“Ek moet in die bed kom. Het elf uur ‘n afspraak by Triena vir my hare,” sy plaas nog ‘n beker koffie voor Bobby. “Nag Ouboet.”
Tien minute voor elf die volgende oggend stap Diana haar buurvrou se haarsalon in Koppieskroon se middedorp binne.
“Môre Diana. Perm ons net vandag of sny ons ook?” groet Triena vrolik.
Sy begin dadelik vroetel met Diana se hare terwyl sy wag dat haar buurvrou besluit wat sy met haar hare gedoen wil hê.
“Sny en perm.”
“Het jy gehoor van Jannes van Salomé Engelbrecht?” Triena is die dorp se koerant. Altyd eerste met die nuus voor dit in gedrukte vorm verskyn.
“Wat het Jannes weer gedoen?” Die bewaarder van sedes roer weer in Diana se gees.
As moeder van twee voorbeeldige diakens en oud ouderlingsvrou ken sy haar plig om die plaaslike gemeenskap op die regte spoor te hou. En sy is nie iemand wat haar plig versaak nie. Almal ken haar as ‘n kranige werker en uitvoerder van haar christelike pligte.
“Hy het mos by die koöperasie gewerk …”
“Ek dog hy werk nog daar,” verbaas slaan sy haar hand oor haar mond..
“Nee! Hy het mos van die boere aan veevoer enne … ag man … enne Pee-iets gehelp. Wat is die naam nou weer? Ag man, maar ewe te wel, dis blykbaar is dit iets wat mens met die vee se voer meng.” Triena skud haar kop asof sy die naam van die produk uitgeskud sal kry.
“P6,” sy klap ingenome met haar hand op Diana se skouer toe sy die naam onthou.
“Wat vertel jy my! Dan kan sy ma haar so neus in die lug hou. En Sondae sit die hele spul in die kerk. Skande!” Diana hou haar hand oor haar bors om te wys hoe Jannes se optrede haar skok.
Die stoel waarop sy sit skroei nou haar agterstewe. Sy kan nie wag dat Triena klaar kry met haar hare nie.
“Dis al Jannes se sewende werk hierdie jaar, weet jy. En die jaar is nog nie in die helfte nie.” babbel Triena lustig voort.
“Die bybel sê mens mag nie oordeel nie, maar daai familie! Ons moet op ons knieë bly sodat ons kinders op die straight en die narrow kan bly, dis nou maar een maal ons as ouers se plig. Die Engelbregge is regtig nie goeie voorbeelde vir ons kinders nie.” vroomheid drup oor Diana se lippe.
“Maar wat kan mens meer van die Engelbregge verwag. Die pa is dood en nou hoer die ma met al wat ‘n man op die dorp is. G’n wonder die kinders is sulke wash outs nie.” sy hou Triena se blik gevange, wag dat haar vriendin sal bevestig wat sy so pas kwyt geraak het.
Nadat Treina klaar is met haar vriendin se hare, ry Diana dadelik oor na die kliphuis skuins oorkant haar woning.
Sy klop dringend aan die deur.
“Salomé!” roep sy ongeduldig toe die deur nie onmiddelik oop gemaak word nie.
Die deur swaai oop. Salomé gaap agter haar hand, haar oë knippend teen die helder middagson. Sy vou haar pers georgette kamerjas styf om haar naakte lyf. Salomé kan nie help om te sien dat haar buurvrou se lyf nog goed daaruit sien vir haar ouderdom nie.
“Wie van ons Engelbrêe het jou nou weer ontstel?” Salomé klink ergerlik.
“Jannes. Salomé jy sal jou seun moet vasvat. Nou nie dat julle juis ‘n naam het om van te praat nie, maar nogtans. Eendag is eendag dan het die polisie hom. Julle het nie ore nie. Mos entitled to alles oor julle kamma swaarkry.” Diana stoom stoom voort soos ‘n ertstrein op die Sishen-Saldanha spoorlyn.
“Wat het geword van op ‘n eerlike manier van geld verdien? Eerlik te werk? Julle sleep ons buurt se naam deur die modder. G’n wonder jy het nie vriendinne nie. Want wie kan in vandag se lewe jou meng met die semels dat die varke jou kan opvreet?”
“Dina …” sny Salomé deur die windstil dag.
“Diana,” word sy uit die hoogte herinner.
“Jy is skerp met die tong vandag. Jy hou jou verniet so heilig. Ons weet almal jy is Dina gedoop. Nou wil jy kom staan en ghrênd wees met Diana oor jy en jou oorlede man kamtig classy is … gmf … gaan lieg vir iemand wat jou sal glo.
Vee eers voor jou deur voor jy voor myne kom vee. Loop gaan hou jou met jou eie seuns se skelm dade op. Dink jy niemand weet dat hulle die veediewe is wat die boere so teister nie?! Dat hulle in hul pa se voetspore volg nie. Mense wat in glashuise woon moenie eerste klipgooi nie. ”
Diana retireer tot op die voorstoep. Sy het nie besef dat iemand weet van haar geheim nie.
“Ek … ek wou net help. Jou ‘n skouer gee … jou las help dra,” stamel sy skaars hoorbaar, rooi van skaamte.
Hierdie vrou is gevaarlik! Salomé kan die lewe vir hulle baie onaangenaam maak as sy wil.
“Dina!” skel Salomé agter haar aan toe Diana aan die tuinhekkie vat. “Onthou jy vir Inspekteur Faan Engelbrecht van Steekdorings? Hy was mý man!”

Diana trek haar rug hol met kort treetjies stap sy oor die straat om by haar huis te kom. Met ‘n slaak van verligting klap sy die voordeur agter haar toe.
Hier sal hulle moet weg! Van Salomé Engelbrecht en haar gebroedsel sal hulle bitter ver moet weg bly. Wie almal weet van Bob se dinge destyds op Steekdorings?

Hoe gaan sy weer die mense in die oë kan kyk na Salomé haar skande luidkeëls op straat verkondig het? Die huis in die mark sit. Trek is al genade.
Drie dae later kap die eindomsagente hul Te Koop-bordjies op die sypaadjie voor Diana se huis in.
Deur die venster waar sy sit en borduur, sien sy vir Triena aangestap kom. Kom seker haar nuuskierigheid bevredig. Gmf, in hierdie dorp steek almal mos hul neuse in andere se sake. Soos ‘n skaap ter slagting loop Diana voordeur toe, toe die klokkie lui.
“Hallo Vriendin,” groet Triena joviaal, “ek sien jou pragtige huis is in die mark.”
“Ja, wel …”
“Nou waarheen trek julle?” Triena loop nuuskierig van vertrek tot vertrek.
“Ons het nog nie vas besluit nie. Seker maar iewers naby die see.” Diana vryf haar hande senuagtig saam.
Miskien sal die see die skande wat Salomé oor haar familie gebring het van haar kan afwas. Maar Diana uiter nie ‘n woord oor haar wroeginge nie. Hou net haar skouers reguit, haar ken uitgestoot soos wat sy altyd gedoen het as kind wanneer sy uitgevang was dat sy kluitjies gebak of kattekwaad aangejaag het. Ontken tot in die hoogste hof, selfs al word jy skuldig bevind deur ‘n regter, was nog altyd die leuse wat sy haar kinders van kindsbeen af geleer het.
In die kombuis sit Triena haar arms om Diana se skouers. Eers wil sy haar uit haar vriendin se omhelsing wriemel maar besluit daarteen.
Triena se stem is sag en medelyend toe sy met haar vriendin praat.
“Moenie worry oor wat ou Salomé nou die ander dag vir jou te sê gehad nie. Ons almal weet lankal van Bob en die seuns se eskapades. Niemand dink minder of meer van jou as wat hulle alreeds dink nie. Troos jou daaraan almal het geraamtes in hulle kaste. Al verskil is, jy wéét nou net dat almal weet waar jy joune bêre.” Triena gee Diana ‘n sagte drukkie.
“Toe, bel nou die eiendomsagente en sê jy onttrek jou huis uit die mark. Toe, toe,” por sy Diana aan deur haar selfoon in haar hande te druk.
Met bewende hande skakel Diana die nommer van die eerste eiendomsagent.
Hoogmoed kom gewoonlik voor die val, sê die spreekwoord. Sy besef nou die kliphuisie wat nog al die jare vir haar soos ‘n seeroog was, het haar gekniehalter. Laat dit nou vir haar vir eens en vir altyd ‘n les wees. Nooit weer steek sy wat Diana is haar neus in ander se sake nie, nooit weer nie.

©Orange Blue

 

©ALLE REGTE VOORBEHOU Geen gedeelte van hierdie boek mag op enige manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die kopiehouer (skrywer) en uitgewer nie

Haar klipkind

Stokkiesdraai – Januarie 1934.
Die Kambroo-son kook weer die aarde soos eier in ‘n drooggekookte pot. Dan en wan kom ‘n wolkie uit, maar teen tienuur het die son alles stilletjies opgelek. Hy laat die klein gemeenskap van Stokkiesdraai buig onder hom.
Emma loer deur die kliphuis se kombuisvenster na Jaap, waar hy besig is om hout te kap. Dag in dag uit kap hy hout. Hulle sal nooit as te nimmer al die hout kan opgebruik nie. Dis net ‘n kapelnes.
Jaap is kwaad vir die wêreld oor sy pa. Nou moet die bome dit ontgeld. En dit oor sy weerbarstigheid om te buk as hy onderdeur die Kameeldoringboom moet loop. Maar afsaag sal hy ook nie die laaghangende takke afsaag nie, om die boom loop wou hy ook nie. En ‘n boom is ‘n boom, hy gee pad vir niemand nie want sy Skepper het hom daar gewil.
Op ‘n dag is Jaap op pad kleinhuisie toe met sy handvol mieliestronke. By die agterdeur het hy al die arme boom die allerlelikste dinge begin toesnou. Emma weet dat die boom een of ander dag sal wraak neem. Bome, soos mense kan net soveel aanslae verduur voor hul gees ingee,oorgee, breek.
Die dag van afrekening het aangebreek. Die Kameel piets Jaap met een van sy lang witdorings. Net onder een van sy ruie wenkbroue trek die boom bloed by Jaap. Jaap skrik hom skoon uit sy skyt!
Oorlog is verklaar. Buite homself van woede storm Jaap die kombuis binne. Terwyl die aller vreeslikste tale oor sy lippe stort, gryp hy vuurhoutjies saam met die bottel lampolie en storm weer uit.
“Jaap Bonthuys buk nie vir bome nie! Stefanus Bonthuys se seun sál nóóit buig nie, vir niemand en niks nie!” Sy stemtoon hoog. Die spoeg kleef taaiwit in sy mondhoeke.
Die boom se stam word die vlamme se resiesbaan. Die oranje-rooi tonge smul gulsig aan die droë boom, wat sy asembenewende kroon tot fyn as kou.
Die boom móés af. En al wat ‘n doringboom is buig nou die knie voor haar seun se tirannie. Sover soos Barkley-wes ry hy met die donkiekar. Van houtplaas na houtplaas word daar gery en bome afgekap. Duur betaal hy vir elke vrag hout, maar nie een bondeltjie sal hy verkoop nie. Die mense van die tentdorp se kinders kom verniet vra. Jaap stuur hul weg met hul pennies nog net so toegeknyp in die hand.
“Japie ons sal môre moet slag.” Behoedsaam benader sy hom, bang vir haar enigste se onvoorspelbaarheid.
“Glo nie. Hier is dan niks vir die skape om hul vet te vreet nie.” brom hy.
Emma sluit haar oë, buig haar kop oor haar hande – biddend. Pynlik byt sy die woorde aan die binnekant van haar wang vas. Om met Jaap te redeneer is soos om volspoed teen ‘n muur vas te hardloop. Sý wil, sý sin, altyd. Stefanus het Jaap verafgood. Sy seun voor sy vrou gestel. Jaap oor sy ma aangestel. Vandag is Jaap haar baas.
“Jy sal maar moet môreoggend slag. Hier is nie meer vleis in die huis nie.” ferm begin sy hul vuil borde op mekaar pak.
“Ek slag niks! As jy wil skaapslag, slag homself! Ek het werk wat gedoen moet word.” En daarmee is die saak tussen hulle afgehandel.
In haar kamer sit Emma met die bybel oop op haar skoot. Daar is te veel trane in haar oë om te sien wat sy lees. Die kers was al uitgebrand toe sy op haar knieë gaan. Haar gebed is sonder woorde, net haar gees wat uitkoms begeer. Haar kind het vir haar ‘n onhoudbare las geword na Stefanus se dood vier jaar terug. Jaap se ewige woede, eiegeregtigheid is besig om haar gees te breek.
“Here vergewe my ‘seblief dat ek so ‘n slegte ma is. Dis moeilik op my ouderdom om met ‘n onvergenoegde dertigjarige kind saam te leef.”
Die nag was op sy donkerste voor Emma uit haar biddende posisie regop kom. In kooi klim en gewag vir die slaap om te kom.
Voor die son sy kop oor die rante kon lig is Emma op die agterstoep besig om die slagmesse by lamplig te slyp. Die vleisskottels en –doeke staan gereed op die muurtjie by die stoeptrappe. Wanneer Meerkat die melkemmers kom haal sal sy hom sê hulle moet eers slag. Sy sal hom later help om die koeie te melk.
Meerkat help Emma die vleis en harslag koelkamer toe dra. Hy hang die karkas aan die hakke wat aan ‘n balk van die koelkamer hang, op.
“Die derms is joune s’n. Vir die ekstra werk vanmôre. Jy kan dit gou stroois toe vat dat Lien dit kan uitspoel. Ons sal melk as jy t’rug kom.” Emma se woorde plof moeg op die koue vloer.
Sy is besig om koffie te maak toe Jaap rek-rek die kombuis binne kom. Sy eergister-se-reuk wen hom nog voor hy by die kombuistafel gaan sit. Ella draai haar gesig weg.
“Jy moet die donkie stook dat jy kan bad voor ontbyt. Daar is beskuit in die blik. Kry vir jou.” Emma beduie met haar kop na die vierkantige bloublik op die tafel voor hom.
“Ek het naseergister gebad.” knor Jaap.
“Mens bad elke aand voor jy gaan slaap. Jy kruip nie met ‘n stink lyf in die bed nie. Veral jy wat so sweet van in die son werk. Is mos nie hoe ek jou geleer het nie.” kap sy verergd na hom terug.
“Ons is nie agterlik nie. Jou pa was ‘n man van aansien. Wat moet die Draai se mense van ons dink as jy wind op stink? Ag nee a man.” sy sukkel om die walging in haar stem te verberg.
“Ek vrot g’n!” woedend stamp hy sy stoel onder die kombuistafel in op pad buite toe.
“Jy moet skoon onderklere ook aantrek vir ‘n slag. En die wat jy nou aan het moet jy vir Lien op die vloer los dat sy dit net nou was.” haar keel trek toe wanneer Jaap weer die kombuis in storm.
Hy gluur haar aan. Sy hande is vuiste geklem. Emma se uiterlike verklap nie haar bewende binneste nie.
“Ek het gesê – ek hét die dag voor eergister gebad,” gluur hy na sy ma.
“Ek gaan vir Meerkat roep laat ons daai verdomde hamel waaroor jy so kerm kan slag.”
“Die hamel hang klaar in die koelkamer.” met wilskrag hou sy haar stem gelykmatig.
“O.” Die woede verlaat sy liggaam net so vinnig soos dit hom ingeklim het.
Emma dek die tafel vir ontbyt. Sy hoor Jaap buite by die donkie werskaf. Haar mondhoeke vertrek in ‘n siniese glimlag. Sy vryf haar nek. Hoekom moet daar altyd ‘n geveg wees voor hy doen wat sy van hom verwag?
Na ontbyt gaan maak sy vuur onder die seringboom langs die koelkamer vir die groot swartpot vir kookwater om die afval te krap. Vandag is sy die een wat die afval moet krap want Lien moet wasgoed was.
Terwyl sy wag vir die water om te kook, weeg sy die karkas met die handskaaltjie. Die naald van die skaal biggel tussen vyftien-, agtien kilogram. Emma klem haar kake opmekaar. Gelate begin sy die karkas uitmekaar sny.
Die hamel mag brandmaer wees maar sy lewer en hart lyk goed, die niere ook. Tevrede dat daar nie enige slakke in die hart en lewer te siene is nie, gooi sy dit weer met die doek toe.
“Help! Oumies! Oumies!” Lien se gille dwing Emma jaend huis toe.
‘n Yskoue hand omklem haar hart.
“Oumies!”
“Herre help die ouvrou!”
“Oumies! Oumies!”
Uitasem bereik Emma die kombuis, leun teen die agterdeur se kosyn terwyl sy hygend probeer asem skep. Knip haar oë om aan die donkerte gewoond te raak. Die kombuis ruik na gestrykte klere. Sy stap dieper die kombuis binne.
“Jaap! Wat maak jy?!” haar hand geskok oor haar mond.
“Los haar!”
“Los nou sê ek!” sy gryp hom aan sy skouers maar Jaap ignoreer haar.
Lien se boude kus die warm Agastoof se plaat. Hoeveel keer het hy dit al gedoen?
“Het jy nou heeltemal mal geword?” gillend stamp Emma hom van die bediende weg.
Emma sien die moord in sy oë toe Jaap stadig na haar omdraai. Lien is ‘n kermende bondeltjie op die vloer.
Emma retireer toe sy die emosies wisselend oor sy gesig sien afspeel.
Haar hande klem woedend om die houtlepel se hef wat onder die papkastrol se deksel uitsteek.
Jaap storm op haar af.
Die adrenalien jaag haar bloed suisend deur haar are.
Die volgende oomblik spat die pap die hele vertrek vol. Die houtlepel tref Jaap se kop, arms, wange, maag en sye.
“Ma! Mamma!” skeur kleinseuntjie gille deur die kombuis.
Emma is doof. Totaal buite haarself. Die vrou wie se bolla losserig langs haar kop vorentoe en agtertoe wip, is vreemd vir haar. Emma ken nie sulke agterlike vrouens nie.
“Mammatjie! Stop Mamma, stop, stop … ek sal nie weer nie, ek belowe. Hou net op asseblief.”
Uitasem sak sy op haar knieë langs haar seun neer. Haar hande op haar skoot klem nog steeds die stukkende houtlepel vas. Haar oë leeg. Sy het haarself verloor. Emosieloos bly sy sit tussen die vertrapte papspatsels.
Jaap kruip by die agterdeur uit.
Meerkat help haar om sy vrou op die donkiekar te laai sodat Emma haar na die siekeboeg op Louwrensgeluk toe kan neem waar suster Sonnekus na haar brandwonde kan kyk. Stokkiesdraai het nie ‘n siekeboeg of dokter nie.
Die ses en twintig myl Louwrensgeluk duur ‘n ewigheid. Dis goed, sy kan dink oor wat gebeur het. Haar optrede voor God probeer regverdig. Emma is nog nie gereed om haarself of Jaap te vergewe, of gereed om te erken dat sy verkeerd was in haar optrede teenoor Jaap nie.
“Hoekom het Jaap jou op die stoof getel,” vra sy oor haar skouer vir Lien agterop die wa.
“Ek het hom gesê hy moet nie net die papier wat ek by die gemak sit gebruik om af te vee. Hy moet die stronke ook gebruik om sy hol skoon te krap. Ek gaan nie meer sy blertse was nie. Hy sal moet self.”
Die dag na die petalje met die onderklere, begin die wolke saampak. Onheilspellend donker hang die blou-pers wattermassa aan die hemel. Dit jaag die stormwind knypend koud voor hom oor die vlakte uit.
Emma staan op die suidestoep van die kliphuis. Uiteindelik het die reën gekom. Alhoewel uit die verkeerde rigting maar baie welkom. Die kouewind brand haar longe toe sy haar asem diep intrek om die skoonreuk van Sy belofte te adem.
Die reën bring hael. Sy kan dit voel aan die wind. Jaap sal vroeg met sy Schwinn moet ry om die karmenaadjie vir mevrou Dominees te vat.
Stilweg stuur Emma haar dankbaarheid vir die reën wat in die aankom is na Bo.
“Japie!” roep sy toe sy die huis binnegaan.
“Wat?” grom hy. Die ou Jaap is terug. Sy belofte vergete.
Emma wys nie die onrustigheid oor wat hy aan haar kan doen, in haar roer nie.
“Die weer steek op. Jy moet jou fiets vat en vir Dominee se vrou die karmenaadjie vat. Dis nog in die koelkamer, links in die hoek.” sy wag nie vir sy antwoord nie. Stap net aan kombuis toe.
Minute later is daar ‘n hengse lawaai op die werf. Die hond blaf dringend. Emma gaan uit buite toe om te kyk wat aangaan.
Jaap is besig om teen die windpomp uit te klim. Meerkat draai die windpomp se briek vas. Basjan staan onder die windpomp en blaf vir Jaap. Die karmenaadjie is voor by sy hemp ingedruk.
Bo-op die windpomp se platvorm wieg hy in die wind. Haal die skaapboud voor by sy hemp uit en hou vas aan die windpomp se stert met sy een hand. Hy beduie met die skaapboud hemelwaarts terwyl hy skree.
“Jy is mos almagtig! Jy sê jy sorre mos vir jou kinners. Ga! My skape se vleis is blou van die maerte. Hulle vrek op ‘n streep in die voetpad na ‘n leë dam toe! En hiers nie weiding nie want jy het mos besluit om nie reën te stuur nie. Is dit hoe jy sorre? Nou dat dit te laat is, nou wil jy reën gee. Kyk of jy hierdie blouboud sal eet! Toe dê, vreet!”
“Jaap!” geskok klap Emma se stem wind-in na haar seun. “Jy is godlasterlik!?”
“Klim nou dadelik af en vat daai vleis nóú vir dominee!” Sweepslag haar stem bevelend.
Emma is verlig toe hy op haar reageer. Net nou val hy van die windpomp af en breek sy nek. Sy wil hom darem nie dood hê nie.
Toe hy by die hek uitry, sit hy oudergewoonte agterstevoor op die fiets se handvatsel hemelwaarts en tuur terwyl hy die pedale trap. Wat sal hy tog so in die lug soek?
Dan sien sy wat agter die fiets aangaan. Vader tog! Hy het die een punt van ‘n tou aan die meelsakkie waarin die vleis is vasgemaak, die ander punt aan die fiets se drarak. Die skaapboud hop-hop agter die fiets aan.
Emma weet dat dit nie sal help om hom te keer nie.
“Vader laat dominee en Mevrou verstaan. Here reken my nie die kwade toe nie, vir Japie ook. Vergewe ons ons sonde, delg ons tekortkominge uit.” haar oë op die weer.
Die donderweer beweeg vinniger in as wat sy gedink het dit sou.
Die vlieswolke gly laag oor die vlakte met die swart wolkbank kort op hulle hakke. Kort-kort slaan die weerlig, sy vuurstraal verdeel oor die ysterryke klipaarde. Soms skroei dit net op een plek.
Onrustigheid oor Jaap woel in haar gemoed. Stil bid sy vir haar enigste se bewaring.
Lank na die dag agter die koppies gaan slaapplek soek het, was daar ‘n klop aan die voordeur.
Hul aandete staan koud en onaangeraak in die opskepbakke op die tafel.
Lydsaam staan Emma van die kombuistafel op. Slof met die Alladinlamp in die een hand, voordeur toe terwyl sy haar voel-voel teen die gangmuur stut met die ander hand. Dit voel asof sy op water loop. Haar binneste het klaar besef die besoeker bring tyding, maar haar verstand wil dit nie verwoord nie.
Dominee en die hoofouderling staan druipend voor haar. Broer ouderling het stil Jaap se skoene in haar hande gedruk. Die voorpunte gaap soos twee visse op droë grond.
Woordeloos vat sy dit by hom, draai om voorhuis toe. Sak in die die naaste stoel neer. Met haar hand beduie sy die godsmanne kan maar sitplek inneem.
Jaap se nat modderbesmeerde velskoene op haar skoot, strelend gly haar hande daaroor.
“Suster hiermee die betuiging van ons meegevoel met die skielike afsterwe van jou seun. Ek kan jou verseker dat hy geen lyding gehad het nie.” Dominee Erwee se stem is sag vol empatie.
“Dankie Dominee, Broer.” haar antwoord ‘n prewel.
“Hoe?” sy kyk na dominee.
“Die weer was oopgetrek toe ons uitstap. Net toe hy op sy fliets klim … die blits … skoon uit sy skoene uit. Dit was so onverwags.” die skok nog te bespeur in sy stem.

©Orange Blue

 

©ALLE REGTE VOORBEHOU Geen gedeelte van hierdie boek mag op enige manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die kopiehouer (skrywer) en uitgewer nie

 

Mien se lente

Mienkie was net ‘n baksteen hoog toe die eerste klip haar tref. Die moeilike woord glip by haar ore in waar dit wortel in haar wonder.Pas op! Trap fyn! Waaksaamheid het om haar hart gerank en welig blom in haar wete gestoot.

“Wat beteken misbaksel?” het sy haar ouma gevra waar díe besig was om die buite-oond se maag vol panne met brooddeeg in, te stop. Haar ouma se rug verstyf.

“Dis wanneer die oond te koud is. Dan rys die brood nie.” was die antwoord. Daar was meegevoel in haar ouma se donkerbruin oë.

Sy het die klip opgetel en in haar sak gebêre, al was dit nie ‘n mooi klip nie. en daar was baie klippe wat die eerste een opgevolg het. Sommige klippe het bloedgetrek, ander het net ‘n skurfte agtergelaat, ander het haar oë in bewondering van God se skoonheid laat skitter.

Die sering is in bruidsgewaad getooi. Haar gaste zoem bedrywig om haar terwyl hulle die bruilofsmaal geniet. Gulsig suip die bye nektar uit die seringboomblomme.

Mienkie het met haar rug teen die boomstam gaan sit. Die klip uit haar sak gehaal, met haar pokkelvingertjies het sy die kontoer van die klip gevolg; die skerprand waar dit afgesplinter het, het haar wysvinger se vel gebreek; dit bloedloos opgefrommel en hakerig gemaak.

Pa se rug krom waar hy besig is om die klipstoep voor die kombuis te lê. Ma se stem beur dan en wan bo die geluide in die kombuis uit. Mammie is besig om die warm bakoond se deur met klei te seël.

Mientjie het die klip weer in haar sak gesit, opgestaan, haar spore met ‘n bloekomtak doodgevee tot by die teerpad. Maar sy het vergeet van haar geliefde kokerboom by die tuinhekkie, in le Rouxstraat 60, Upington.

Teerpaaie is nie altyd gemaklik nie, nog minder gelyk. Lê nie altyd soos ‘n potloodstreep deur die Karoo nie. Teerpaaie is ook nie sonder klippe of slaggate nie. Soms is daar afdraaie waar teer verdwyn en wit sinkplaatpad verskyn.

Mienkie het Mien geword. Elke klip wat na haar gegooi is, het sy saam met gedra. Die mooie gladde blinkes saam met die afgesplinterdes, die kosbare saam met die onooglike knoetserige dolomiet.

Waar Suid-Afrika toon in die see staan – daar waar die twee oseaane ontmoet, maar nie meng nie, daar het sy die spoor van haar menswees ontdek, geleer van die voortyd, oor engele, van bewussyn in wese, van voorbegin en oorbegin sonder herinnering aan wat was, kon wees – ‘n nuwe begin.

Sy het sy spore gevolg van Oos tot Wes, Suid tot Noord en tussen in. Hom het sy gevolg, haar spore in Syne, kronkelend oor die Outenikwa, slingerend en deurnat deur die Tsitsikama, velaf oor die Draak wat sluimerend lê, wagtend op sy volgende prooi.

In bewondering sien sy die landskappe verander, lente gly uit onder die soom van Sy kleed. Sy verkneukel haar in die mooi wat Hy bring in Namakwaland en die Karoo. Die vrede wat stil rinkel in die hemel se stem, die geur van liefde wat sy Skepping versprei. Die genoeglike loomheid van vrede wat sy asem belowe oor vroeë lentereëns wat sal kom.

Later jare het vir hul eie klippe gesorg. Net groter met meer seer, vernedering, gedienstig het Mien dit bly optel. Sy was die slaaf van ander se klippe.

Eenkeer het sy omgekyk.

“As mens omkyk-omkyk loop, stamp jy jou tone bloed. Struikel jy lippe-teen-die-klippe oor rotse. Val jy jou velaf oor klippies fyn – kom jy nêrens.” Sy stem is die geruis van die wind deur die Kokerboomwoud by Kenhardt. Sy asem warm in haar oor soos die aandwind oor die rooi Kalahari-duine in die lente.

Langs die Molopo-rivier, in die skadu van die Apiesdoring het Mien tot rus gekom.

Silwer skyn haar swarthare toe sy die sak met klippe uitkeer. Noukeurig beskou sy haar klippe. Om en om draai sy elke klip in haar hande. Die gesplinterdes eenkant, die edeles daaikant, die verkalktes diekant, kleintjies, grotes, rotse, die met klippe met klip binne-in klip gesmelt, elkeen op sy gepaste hopie verdeel sy haar klippe.

Geruisloos het Hy tussen die duine onder ‘n Kameeldoring gaan lê. Stilswyend na haar gekyk waar sy haar klippe pak. Hy het sy hand in sy kleed gesteek en ‘n kokerboomsaad uitgehaal. Dit na haar gerol.

Skielik ruk ‘n dwarrel aan Mien wat haar na haar asem laat snak.

Verbaas het sy na die kokerboomsaad voor haar voete gestaar toe die skalkse warrelwindjie oor die duin wegsluip oor die grens Botswana toe.

“Uniek,” sy stem het haar wang gevee, oor haar hare gestreel.

Hy glimlag tevrede toe sy dit optel, dit liggies in die sand druk.

Mien het die klippe een vir een begin stapel. Grotes tussen kleintjies, skurwes tussen gladdes, lelikes tussen mooies.

Kwarts vanaf Kakamas, vuurklip uit die Richterveld, ysterklip van die Morokaanse rand, tieroog uit Suidwes, dolomiet van die Vlakte, jaspis uit Hong Kong, swart perlemoenklippies vanaf die Suidsee – elkeen het sy vasgehou, prewelend teen haar voorkop gehou, gebid, voor sy dit stapel.

Dae het weke geword, weke, maande, maande, sewejaar, toe eers is Mien klaar gebou. ‘n Altaar van vergifnis en heling het Mien gebou – hare.

Nie eenkeer het Hy van haar weggegaan. Geduldig het Hy gewag, haar trane met sy sagte wind afgedroog. Haar dankbaarheid en vryspraak met sy hand opgeskep; dit aan sy kleed vasgesteek met ‘n Apiesdoring-doring.

Voorreën mis oor die Kalahari – genadereën.

Mien stof haar knieë af en stap aan huis toe. Sy het vrede gemaak, uitgewoed. Sy kon uiteindelik vergewe. Sy is klaar met soutpilaar speel.

Sewe jaar voor die saad sou wortelskiet, sewentig jaar voor dit weer saad sou gooi. Intussen het die boom Mien beloon met geilgeel blommeprag en hordes suikerbekkies wat kom nektar soek in die wintermaande.

Uniek is die enkel kokerboom langs die loop van die Molopo, uniek soos Mien.

Woorde: 972

©Orange Blue

 

©ALLE REGTE VOORBEHOU Geen gedeelte van hierdie boek mag op enige manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die kopiehouer (skrywer) en uitgewer nie.

 

 

 

 

 

 

 

 

herinneringe

Kwas
kwistig
die hale
vermeng kleure
op wit doek word tonele vasgevang

portret, stillewe of glimps uit alledaags
vang varkhaar of
paletmes
gisters
vas

©Orange Blue

©ALLE REGTE VOORBEHOU Geen gedeelte van hierdie boek mag op enige manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die kopiehouer (skrywer) en uitgewer nie

Boodskapper van Empireum

In droombeeld langs helder waterstroom
buig simboliek by klippe vroom
lewegewend – die stoflike liturgies vergewe
tussen varingmos groei menseboom

ernstig die boodskapper met haar somber tyding
eerbiedig sy die opdrag van enkelbegeleiding
in gedagtegang verduidelik sy – empireum
word verlos die onstoflike in bevryding

©Orange Blue

©ALLE REGTE VOORBEHOU Geen gedeelte van hierdie boek mag op enige manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die kopiehouer (skrywer) en uitgewer nie

Versnit

Asof in ‘n droom uit die verlede
flambojante figuur verskemer die vertrek
‘n reënboog vloei heuphoog na benede
plotseling stop by beskeie voet wat ritme uitwerk

Stewelhakke verklap ferm sy eenheid
op skurwe houtvloer uit:
“Randall Wicomb, sanger, kopersmid”
‘n seldsame wyn – versnit.

©Orange Blue

©ALLE REGTE VOORBEHOU Geen gedeelte van hierdie boek mag op enige manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die kopiehouer (skrywer) en uitgewer nie

Soom van Sy Kleed

Tussen hemel en aarde in donker hemelnag
sprei Sy kleed se soom fluweelsag
kleurryke partikels dans in magnetieseveld
wagtend die Bruid op sy koms, onvermeld.
©Orange Blue

 

©ALLE REGTE VOORBEHOU Geen gedeelte van hierdie boek mag op enige manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die kopiehouer (skrywer) en uitgewer nie

“My kinders is nie hondjies nie”

 

 

Vir Sintie

 

Trou is nie perdekoop

duurder as karkoop

meer plesierig as embuiakoop

na ‘n troue se

a

f

l

o

o

p

 

 

“’n slukkie water?” (liefdevol sag ‘n moederstem)

tweejarige boudjies op ‘n bakkiebuffer

in goedige luim: ons moet aanstoot

misgissing  ‘n f l u i t

 

 

‘n draai in die pad

(weer) ‘n dringende fluit – te laat!

‘n trein, bakkie

g r o e t!

 

 

lappop-liggaam

geslinger  op die spoor

gulsig vreet die ystermonster

geskend, geskeur die moederlyf

 

 

‘n vader

paniekerig, soekend, verligting,

v e r s u g t i n g,

dankbaar die lyfie ongedeerd

 

 

twee ogies gerig op

karmosyngevlek ingeduikte hoop,

g e s k e u r

“waar’s mamma?”  (‘n vraag  wat geen vaderoor wil hoor)

 

 

van staden jy’s van joue spoor!

my vrou mag sing in engelkoor

maar my dogter sal nooit joue word,

my kinders is nie hondjies nie.

 

 

stiefma se swaard verwond,

kinderlik die wens – die dood was ook haar part.

verleë, v e r d e e l d, ‘n vaderhart

oë wat smeek: “jy is jonk verdra nog net die maal”

 

 

afrikahond

se soene heel

‘n kind in haar onstoflike verwond –

in haar eie wêreld gekeer.

 

©Orange Blue

 

©ALLE REGTE VOORBEHOU Geen gedeelte van hierdie boek mag op enige manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die kopiehouer (skrywer) en uitgewer nie

Tweedeklas burgers – Rhyna (Deel 2)

Dit was ‘n lang veertien uur op die pad. Nie Rhyna of Sarie het veel vir mekaar te sê gehad nie. Rhyna het nie omgegee oor die stilte nie. Sy wou net by die huis kom. By haar ma en Berion wat afgelope twee weke op Swartkrantz woon.

“Ons het Berion in die skool gesit. Graad 0.” het tannie Sarie haar meegedeel toe sy na Berion se welstand uitvra.

“Dit was nie maklik met die dat dit al amper die helfte van die jaar is nie. Dominees moes toutjies trek.”

“Dankie. Dis goed so. Jammer oor die ongerief.” Sy het nie ‘n sent op haar naam nie. Hoe gaan sy die skoolfonds betaal?

“Ek en jou oom sal die skoolfonds en ander uitgawes betaal tot jy op jou voete is. Maar …” sy is in afwagting dat Sarie die uitgerekte stilte moet verbreek. “daar is voorwaardes waarop ons dit doen.”

“Voorwaardes? Soos wat?” sy het nie vergeet van die seksuele gunsies by die hoofhuis op die plot nie.

“Dat jy ‘n werk kry, jy jou skoolloopbaan voltooi en jy van die vent skei. Ons sal vir die egskeiding betaal. Jy kan ons met verloop van tyd die onkostes van die egskeiding terug betaal.” Haar tannie het ‘n neiging om die wêreld in een asem uit te sorteer.

Die uitdrukking op haar tannie se gesig het haar summier laat instem. Nie dat sy níe van Dave wou skei nie. Inteendeel sy verwens die dag wat sy hom ontmoet het.

“’n Werk is nie ‘n probleem nie. As mens wíl werk, sal jy altyd werk kry. En buitendien het jou oom ‘n paar hande nodig by die skrootwerf. Jy val Maandag se week in. Die salaris is nou nie te onaardig nie maar julle bly by ons, gratis natuurlik. Dis geriefliker so. Buitendien is Berion se skool net om die hoek van ons. Julle twee sal vir tyd en wyl ‘n kamer moet deel tot ons vir julle ‘n woonstel agter in die erf kan bou.”

“Ek aanvaar dit so. Ek sal elke sent terug betaal. Ek belowe. Sal Tannie my asseblief net eers na my ma toe neem?” sy moet eerste met haar ma gaan regmaak. Sarie bly haar ‘n antwoord skuldig.

Die son trek water toe hulle oor die kruin van die randjie ry waar Swartkrantz in die laaste strale van die son gedy. Sy is tuis. Dit is nou nie meer lank nie dan kan sy haar seun in haar arms hou. Hoe baie het sy nie na hom verlang hierdie afgelope twee weke nie. Hoe baie moes haar ma nie na hulle verlang het gedurende die twee jaar sedert hulle weggeloop het nie? Rhyna bloos toe sy aan haar ma en die seer wat sy oor haar ma gebring het dink.

Haar tannie verras haar deur links af te draai na die begraafplaas wat langs die hoofpad geleë is op pad Swartkrantz toe.

“En nou,” vra sy behoedsaam.

“Dekselse minsipaliteit is te sleg om die pad na die begraafplaas toe te skraap. Dis net gate en dongas,” Sarie konsentreer om die gate en slote te vermy Rhyna se vraag gaan ongehoord verby.

Rhyna se verbeelding hardloop met haar weg. Haar ma is dood. Tannie Sarie het dan nog nie een keer van haar ma gepraat nie. Sy het haar kanse verspeel om met haar ma reg te maak. Hoeveel keer het haar ma nie gebel na hulle weg is nie? Vir ‘n jaar lank was daar omtrent elke dag ‘n oproep en toe niks. Vergifnis vra is nou buite kwessie. O hoekom was sy tog so hardvogtig ?

Sy bly sit toe Sarie tussen twee blokke grafte stil hou, haar oë vol trane.

“Kom. Kom help my dat ons die graf kan skoonmaak. Dis amper donker, dit raak nou gevaarlik om hier te wees met die plakkerskamp aan die oorkant van die pad. En wat klaar is, is klaar. Dis petrol so heen en weer. Is goed ek het daaraan gedink om die skoonmaakgoed saam te ry.” Sarie gesels land en sand sy let nie op dat Rhyna huil nie.

Inskiklik klim Rhyna uit die bakkie. Ongesiens vee sy die trane af. Rek haar stram ledemate en help Sarie dra aan die sakkies sout, emmer en lappe.

Verligting spoel oor haar toe hulle by haar grootouers se graf aan moederskant staan.

“Daar is ‘n kraan. Bring vir ons water dat ons die stof van die graf kan afspoel.” Sarie beduie so ‘n paar rye grafte aan, in die rigitng van die opsienershuisie.

Nadat hulle die graf gewas het, strooi Rhyna-hulle die sakkies sout al om die graf.

“So ja. Dit nou gedaan, nou kan ons maar huis toe gaan. Dit het my nou ‘n Sondag se ry hierheen gespaar. Nou kan ons die naweek rustig kuier en beplan. Dankie vir jou hulp. Jou ma het seker nou al my sitkamermat deurgeloop in afwagting op jou koms. En jy is seker ook al haastig om by haar en jou kind uit te kom.”

Dit is eers toe hulle van die begraafplaas af weg ry dat haar senuwees begin knaag. Sy het haar alles goed en wel voorgestel met die ontmoeting met haar ma, maar nou is die vooruitsig besig om in angs te verander. Sê nou net haar ma wil niks meer met haar te doen hê nie. Hoe gaan sy die rede vir hulle bedrog verduidelik? Om die skuld op Dave alleen te pak sal nie haar bas uit die tronk red nie. Sy het immers willens en wetens saam met hom en die bankamptenaar gekonkel.

By die huis aangekom klim Rhyna uit om die skuifhek oop te maak. Die hek kreun en knars toe sy dit oopstoot. Nog voor sy die hek heeltemal oop het gaan die voordeur oop. Berion pyl gillend  op haar af.

“Mamma!” blydskap op sy gesig te lees.

Rhyna vang hom in haar arms. Sy geniet sy omhelsing. Ddruk hom styf teen haar vas. Oor en oor soen sy hom. Dan sien sy haar ma op die bo punt van die stoep se trappies staan haar hande wringend in mekaar. Rhyna maak haar los uit Berion se omhelsing en stap na haar ma toe. Uitstel is daar nou nie meer nie. Dit is beter om die onaangename so vinnig as moontlik agter die rug te kry.

Sy gaan aan die onderpunt van die trappe staan.

“Naand Mamma. Ek het huis toe gekom. Ek is jammer. Jammer oor alles. Oor ek ma uit ma se erfporsie bedrieg het nadat pappa se boedel reeds afgehandel was. Ek weet ek gaan tronk toe gaan. Daaraan moes ek gedink het voor ek Dave goedsmoeds nagevolg het. Ek was lief vir hom. Gedink hy was lief vir my. Maar dis nou gedane sake. Ek kan nie die gevolge van my dade wegpraat of vryspring nie.” Sy sluk aan die knop in haar keel, kyk sy van haar voete op, lig haar ken en kyk haar ma vol in die oë. “Kan Mamma my vergewe? Asseblief?” ingehoue trane het haar stem al growwer laat klink. Haar blik is steeds hoopvol op haar ma gerig.

Lank het hulle so gestaan voor Ella stadig die trappe afgestap het tot by haar dogter. Sarie en Berion het intussen om die hoek van die huis komsbuis se kant toe verdwyn.

“Daar is niks te vergewe nie. my kind. Ek het jou klaar vergewe, dieselfde dag nog. Jy was ‘n kind, gedink en gedoen soos ‘n kind sou. Hoe kon jy jouself teen iemand so slinks en soveel ouer as jy verweer? Kom hier,” haar arms gaan wyd oop vir haar dogter.

“Ek het net ongelooflik baie na julle verlang. Daar is ook nie sprake van tronk toe gaan nie. Die ondersoekbeampte het gesê dat die bewyse dat jy bedrog gepleeg het, onvoldoende is. Nêrens is my handtekening vervals nie. Alles dui daarop dat ek willens en wetens al die dokumente onderteken het. Ek het die saak terug getrek. Elke dag gebid dat jy eendag huis toe sal kom, jy en Berion. Dit is al wat ek begeer het.”

Rhyna het haar werk as kassiere by die skrootwerf geniet. Om geld te verdien sonder om gedwonge gunsies uit te deel, is baie bevredigend. Nog meer het die wete dat sy nou ‘n alleen ouer is vir haar kind haar aangevuur om haar skoolloopbaan deur afstandsonderrig te voltooi. Sy het haar oom en tannie se voorwaarde nagekom en is na een van die plaaslike prokureurs om haar skeisaak aanhangig te maak.

Van Dave het sy nie weer gehoor nie, die inwoners van die plakkerskamp ook nie. Sy en Bekkie kommunikeer nog gereeld met mekaar.Rhyna is dankbaar Berion het goed aangepas in sy nuwe omstandighede. Hy en sy ouma is onafskeidbaar.

Twee jaar het verby gegaan voor haar selfoon een oggend by die werk lui. Dit was haar prokureur se persoonlike assistent. Rhyna moet ‘n afspraak maak en hom kom sien, want daar is verwikkelinge aangaande haar skeisaak, het die dametjie haar meegedeel. Die volgende middag het sy die afspraak nagekom.

“Mevrou die goeie nuus is – ons opspoorder het u man in Bloemfontein opgespoor. Die slegte nuus of goeie nuus, hang af hoe u dit sal beskou – u man is daar in ‘n staatshospitaal opgeneem. Terminale kanker is by hom gediagnoseer. Die dokters meen dit is net ‘n kwessie van tyd voor die einde aanbreek.” het hy haar saaklik meegedeel.

“Wat u nou te doen staan, is …” het hy voortgegaan, “ u kan of voortgaan met die egskeiding of wag tot u man dood is. Laasgenoemde sal u baie geld spaar. Die feit is egter, skei u hom nóú gaan sy familie, veral sy kinders, u verwyt dat u hom in die steek gelaat het toe hy u op sy nodigste gehad het. Menslikergewys is laasgenoemde die beste opsie wat ek sal aanbeveel.”

“Hoe lank reken die dokters?” Rhyna is verslae.

“Nie meer as maand, twee dalk korter. Ek stel voor ter wille van u kind dat u met u man kontak maak. Hom gaan besoek. Dit sal vir u ook afsluiting gee.”

Willoos het sy ingestem om die egskeiding te laat vaar.

Die aand aan tafel het sy met ‘n swaar hart die nuus aan haar familie oorgedra. Soos sy verwag het was daar baie teenstand oor ‘n voornemende besoek asook oor haar besluit om nie met die egskeiding voort te gaan nie. Heelwat later die aand het almal ingestem dat haar prokureur tog reg is.

“Tannie Sarie, is dit vir Tannie moontlik om ons Bloemfontein toe te neem. Ek sal brandstof ingooi soontoe en terug,” saggies het sy gebid dat haar tannie sal weier, dat sy dit as verskoning kan gebruik.

“Dit is reg so met my. Wanneer wil jy gaan?”

Rhyna is teleurgesteld.

“Die Saterdag as dit moontlik is.” Weereens was sy hoopvol dat dit ongeleë sal wees, maar nog eens het hoop haar beskaam.

Hulle moes eers ‘n rukkie in die parkeer terrein vertoef sodat Rhyna moed bymekaar kan skraap. Rhyna het nie uitgesien na die besoek aan Dave nie. Haar hand het gepyn so styf het Berion daaraan vasgehou.

Voor sy aan die deur wat na die Onkologie Afdeling lei, vat het sy die bulderende stem wat van die gangmure bons en dawerend op haar oordromme slaan, herken.

“My God, my God, hê genade?! Neem weg hierdie helse pyn! Waarom straf U my so?”

Berion het bang aan haar vasgeklou. Sy pa se bulderende stem het beelde uit die verlede opgeroep.

Haar maag draai toe sy die gangdeur na die Onkologie saal oopstoot.

“God waar is U?! Verlos my van hierdie hel.” Sy kon hoor hoe hy hortend na sy asem snak.

“Ek wil nie dood gaan nie! Genade! Genade! Ek smeek U.” Dave bulk soos ‘n bees.

Berion kon nie sy pa so sien nie. Dit was duidelik dat die situasie haar kind baie ontstel. Die beste sal wees as hy in die wagkamer by haar tannie gaan wag, besluit Rhyna.

“Kom. Mamma dink jy moet eers by tannie Sarie gaan wag tot Mamma jou kom haal om vir pappa te sien. Reg so?”

“Ek wil hom nie sien nie.” Berion het heftig sy kop geskud.

“My kind hoef nie,” het sy hom verseker en alleen na Dave se kamer geloop.

“Hallo Dave,” goedaardig het sy haar hand op sy arm gesit.

“Hoer!” kryt hy dit uit toe hy sy arm onder haar hand uitpluk.

“Hoer!” skel hy weer.

Rhyna ignoreer die skeltaal.

“Wat maak jy hier? Ek soek jou nie hier nie. Nou dat jy opgen@#&%$ is, is ek weer goed genoeg!”

Trane brand agter haar oë. Saggies bid sy dat die Here haar innerlik sal sterk maak en nie sal toe gee aan die vrees wat hy by haar inboesem nie.

“Rhyn help my, die pyn. Ek kan nie meer die pyn vat nie,” smeek hy meteens.

Sy skrik toe hy haar hand gryp en nader pluk. Instinktief pluk sy weg.

“Hoer! F@#&$! Ek het jou nie nodig nie. Eers gooi jy my weg, noudat ek dood gaan nou wil jy kom wys jy gee om. Waar was jy toe ek jou nodig gehad het? Hê?” snou hy haar toe.
“Ek is jammer. Dit was onvergeeflik van my,” sy probeer om hom in ‘n bevredigende stemming kry.

“Ek haat jou!” die draak van onverbloemde haat blaas vuur in sy oë.

“Ek weet,” antwoord sy ingetoë. “Ek is lief vir jou.” Dit is nie ‘n leuen nie. Niemand kan so ‘n patetiese bondeltjie pyn haat nie. Sy kry hom ontsettend jammer. Geen mens op aarde verdien dit om soveel te ly nie.

Intussen het die Suster het ingekom om na Dave om te sien.

“Dit is morfien.” Verduidelik sy toe sy die medisyne toedien. “Dit sal hom bietjie kalmeer. Sy pyn effens verlig. Hy kry klaar volsterkte. Ons kan nie die dosis nog vermeerder nie.” het sy Rhyna se vraende blik beantwoord. “Jy mag maar by hom bly. Niemand kom hom ooit besoek nie. Sy suster het hom ingebring. Dit was die laaste wat sy hier was.”

“Sy seuns,” vra Rhyna

“Nie met ‘n oog gesien terwyl ek aan diens was nie.” Simpatiek het sy haar hand op Dave se arm gelê en na hom oorgebuk. “Oom, oom moet nou bietjie rus. Ek het vir Oom ietsie vir die pyn gegee.”

Die suster beduie aan Rhyna om saam met haar uit die kamer te gaan.

“Hy roep al ‘n week lank so,” het die suster opgemerk. “As hulle so roep is dit nie meer lank nie. Almal maak nie so nie, net die wat sukkel om dood te gaan. En hý sukkel om te gaan.”

Rhyna het Sarie gevra om Berion terug te neem Swartkrantz toe. Haar tannie het vir haar blyplek gereël by die gastehuis wat oorkant die hospitaal geleë is.

Die verpleegsters het haar geleer hoe om Dave te versorg. Sy het vir hom uit die Bybel gelees, vir hom gebid as die pyn hom laat uitroep het, hom die verlede oor en oor vergewe as hy in wanhoop en angs dit opgehaal het.

Een oggend, ‘n week na sy Berion en Sarie huis toe gestuur het, het die irisse van Dave se oë dof en jellie-agtig vertoon.

“Hoekom lyk sy oë so,” het sy die suster gevra toe díe weer haar rondtes doen.

Die suster het Rhyna aan haar arm gang toe geneemen verduidelik .

“Sy oë het gebreek. Dit gebeur gewoonlik net voor die einde. Jy moet jouself staal vir die einde. Die laaste paar dae is hy baie rustiger met jou by hom. Miskien moet jy julle predikant of pastoor kry om jou man die laaste bult uit te help. En vir jouself ook, met die neem van afskeid wanneer die tyd aanbreek. Of ek kan een van ons plaaslike predikante vra om te kom. Hier was van hulle by jou man.”

“Dankie. Jy kan maar een van die plaaslike predikante kry. Ons is in ‘n Susters-kerkDit sal gaaf wees.” Rhyna weet nie juis hoe om in so ‘n situasie op te tree nie.

Die predikant het gekom en met kortliks met Dave oor vergifnis gesels. Die voorbeeld van die moordenaar aan die kruis opgehaal. Daarna het hy vir Dave Psalm 23 voorgelees.

Met Rhyna het hy vertroostend gesels oor die verlies van ‘n geliefde. Hoe om aan te gaan met die lewe na die afsterwe van ‘n lewensmaat.

Rhyna kon aan die dominee en die hospitaal personeel sien dat die einde nader is as wat sy gedink het. Sy was verlig, maar ook hartseer.

Die daarop volgende oggend, tussen middernag en dagbreek het Dave se asemhaling al hoe vlakker geword. Die suster het die dominee laat kom.

Rhyna en die domineee staan weerskante van Dave se bed. Elkeen met Dave se hand in hul eie. Dave se liggaam het breekbaar vertoon tussen die lakens.

“Ek dink dis tyd,” het die dominee opgemerk.

“Oom, kan oom my hoor?” hy het afgebuig en naby Dave se oor gepraat.

Dave se kopknik was byna onopmerklik.

“As Oom reg is, kan ons maar met die sterwensbegeleiding begin.” Die dominee se stem was sag,vertroostend.

Die dominee het weer Psalm 23 gelees. Medelydend gebid en gevra dat die Here Dave aan die anderkant sal ontvang. Dave het ‘n laaste keer gesug. Sy het sy hand nog ‘n rukkie vasgehou. Sy wolmus reg getrek. Eers toe die verpleegsters inkom om die lyk te was het sy, sy hand gelos.

Na Dave se afsterwe is sy terug na die gastehuis oorkant die hospitaal.

In haar kamer in die gastehuis het sy op haar bed gaan lê. Lank het sy net die beelde van die verlede deur haar gedagtes laat hardloop. En toe kom die trane. Sy het gehuil oor wat kon wees, oor wat was, oor haar nuutgevonde vryheid en skaam gekry omdat sy nie daaroor skuldig gevoel het nie. Eers toe sy uitgehuil was, het sy haar tannie gebel.

“Middag Sarie wat praat.”

“Middag Tannie. Dave is vroeg vanoggend dood. Tannie kan my maar kom haal.” Einde

©Orange Blue

 

©ALLE REGTE VOORBEHOU Geen gedeelte van hierdie boek mag op enige manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die kopiehouer (skrywer) en uitgewer nie